Die waarde van uitreik | Wanneer geloof hande en voete kry
Updated: Oct 22

Daar is iets besonders wat gebeur wanneer ons die bekende grense van ons alledaagse lewe verlaat en onsself beskikbaar stel om ander te dien. Skielik word geloof meer as iets waaroor ons op 'n Sondag praat. Iets meer as die weeklike roetines en bereik dit verder as ons klein allerdaagse wêreld. Dit word iets wat ons met ons hande doen, met ons harte beleef en deur ons verhoudings uitleef.
Uitreike is soveel meer as bloot 'n reis na 'n ander dorp, gemeenskap of land. Dit is 'n geleentheid om die evangelie op 'n tasbare manier uit te leef, om nuwe perspektiewe te ontdek en onsself oop stel om self deur die ervaring verander te word.
Ons reik uit omdat God eerste na ons uitgereik het
Die kern agter hoekom ons as Christene uitreik, lê nie bloot in die denkwyse om 'iets vir ander' te doen nie, maar in die uitleef van wat God reeds vir ons gedoen het.
Jesus se bediening was gekenmerk deur 'n bereidwilligheid om mense te ontmoet waar hulle was. Hy het saam met mense geëet, na hulle geluister, hulle nood raakgesien en hulle met liefde en waardigheid behandel. Sy voorbeeld herinner ons dat die evangelie nie net verkondig word nie, maar ook sigbaar word in die manier waarop ons ander mense hanteer.
Wanneer ons uitreik, word ons genooi om deel te neem aan dit waarmee God reeds in die wêreld besig is. Ons gaan nie omdat ons al die antwoorde het nie, maar omdat ons bereid is om te luister, te leer en te dien.
Daarom is 'n suksesvolle uitreik nie noodwendig een waar ons die meeste projekte voltooi of die grootste getalle bereik nie. Soms lê die grootste waarde in 'n gesprek, 'n nuwe vriendskap of die eenvoudige ervaring dat iemand werklik raakgesien word.
Deelnemers word ook verander
Een van die kosbaarste aspekte van uitreike is die invloed wat dit op die deelnemers self het. In vandag se spasies van isolasie, waar veral jongmense hulself in afsondering vind, bied 'n uitreik die spasie om nie net sosiaal te verkeer nie, maar weg te breuk uit die lokvalle van afsondering wat daagliks voor hulle staan.
Uitreike bied ook die unieke geleentheid om hulle geloof buite die bekende omgewings van hulle eie gemeenskappe te ontdek. Hulle word blootgestel aan ander gemeenskappe, kulture en lewensomstandighede. Hulle leer om saam te werk, verantwoordelikheid te aanvaar en hulle eie gawes tot diens van ander te stel.
Dikwels ontdek 'n jongmens juis tydens so 'n ervaring dat diensbaarheid nie 'n besondere talent of kwalifikasie vereis nie, maar bloot 'n gewillige hart.
By Waypoint Studentebedieninge sien ons uitreike juis ook daarom as 'n belangrike deel van geloofsvorming vir elke jong mens. Dit skep ruimte waar geloof, gemeenskap en diensbaarheid bymekaarkom, en waar jongmense die geleentheid kry om as gelowiges én leiers te groei.
Meer as 'n bestemming
Ons uitreikgeleenthede herinner ons telkens dat diensbaarheid verskillende vorme kan aanneem. Dit kan beteken dat ons tyd saam met kinders deurbring, praktiese instandhoudingswerk verrig, plaaslike geloofsgemeenskappe ondersteun of eenvoudig verhoudings bou met mense wie se leefwêreld van ons eie verskil.
Hierdie ontmoetings herinner ons dat uitreik nie 'n eenrigtingverhouding is nie. Ons gaan nie bloot om iets te gee nie; ons ontvang dikwels net soveel deur die wysheid, gasvryheid en geloof van die mense wat ons ontmoet.

Van 25 November tot 8 Desember 2026 bied ons Botswana-uitreik juis sulke geleenthede. Deelnemers sal onder meer in Maun, Motopi en Gaborone betrokke raak by kinder- en jeugbediening, ondersteuning van plaaslike bedieninge, praktiese dienswerk en Kerssangdienste. Daar is selfs geleentheid om tussen Botswana se besonderse natuur en wildlewe uit te kamp.
Dit beloof 'n ervaring te wees waar diensbaarheid, geloofsgroei en avontuur op 'n betekenisvolle manier ontmoet.
'n Uitnodiging aan ons gemeentes
Ons glo dat uitreike nie net vir 'n uitgesoekte groep mense bedoel is nie. Dit is geleenthede waardeur die breër kerk saam kan groei.
Wanneer gemeentes hulle jongmense aanmoedig om aan uitreike deel te neem, belê hulle nie net in 'n enkele ervaring nie, maar ook in die toekomstige leiers, vrywilligers en aktiewe lidmate van die kerk. 'n Jongmens wat tydens 'n uitreik ontdek dat hulle gawes 'n verskil kan maak, keer dikwels met 'n nuwe perspektief op hulle eie gemeente en gemeenskap terug.
Ons wil daarom gemeentes regoor die Vrystaat uitnooi om saam met ons oor hierdie geleenthede te droom. Vertel julle jongmense daarvan. Moedig hulle aan om deel te neem. En oorweeg hoe julle as gemeente deel kan word van die groter verhaal van diensbaarheid.
Want uiteindelik gaan uitreik nie bloot oor hoe ver ons reis nie, maar oor hoe bereid ons is om God se liefde sigbaar te maak, waar ons ook al is.
Wanneer ons uitreik, verander ons nie net die wêreld rondom ons nie. Ons laat ook toe dat God ons eie harte verander.
Vir meer inligting kan julle ons gerus skakel by: info@kopanongchurch.org | (087) 265-5115
Om in te skryf vir die Botswana Uitreik of Yzerfontein Stranddiens gaan kyk gerus op ons webtuiste: www.kopanongministry.org




Comments